Die Koffiewinkel
Klink klaar koffie kleur Spiraal op cappuccino skuim Klein tafeltjie waar lenteson Skadus van die dorpsplein opruim Bokmelkkaas, karamelui geroosterte broodjie wat die room kamoefleer Op daardie sojamelk-antocinno van die Vrou wat beweer dat sy gesondheid bestudeer. Die koffiewinkel het kaffeïenvry Die koffiewinkel het almandelmelk Die koffiewinkel is Fair Trade meneer Kom jy weer 'n volgende keer? Barista brou met bruin bone Donker espresso, donkerswart Kenya, Columbië of Peru bedeëlt Kaffeïen klop klop jou hart. Sshhh sshhh ssshhh sjoee sssss Dis warm, dis stoom, dis aan'd borrel Die melk vir die mokka Vir die man met die das om sy gorrel Die koffiewinkel het koek Die koffiewinkel het ontbyt Die koffiewinkel speel jazz meneer Kom jy weer 'n volgende keer? Costa, Caribou, Starbucks, Segafredo Mug and Bean, Ritazza, Lavaza, Vida e Caffé, _el camino al café_ Regmakers te koop op stasie en plaza
Hier kan ons kuier Hier kan ons werk Hier kan ons onttrek Wanneer die wêreld ons senu's werk Die koffiewinkel het frappé Die koffiewinkel het internet Die koffiewinkellojaliteitsprogram meneer Kom jy weer 'n volgende keer? Bulgaarse espresso Borovets Koffie Verkeerd Amstelveen Rooi cappucino Kaapstad Drink'it warm onderdak uit'ie reën Koffiekroeg, koffiekiosk, koffiewinkel Oggendregskop, middagkuier, aandslenter Stadsmens van die een na die ander, getrou Die sosiale bindlint gevind in die koffieventer. Die koffiewinkel is hier Die koffiewinkel bedien my plesier Die koffiewinkel se apparaat reeds gepoets en poleer Want more kom hierdie stadsmeneer weer.